Wat ons verkondig

Wat ons verkondig-opsomming

Ons is ʼn Gereformeerde Baptiste gemeente in wording wat verkondig:

God is drie-enig en soewerein. Vader, Seun, Heilige Gees. Hy is die Soewereine Heerser oor die heelal is en laat alles meewerk volgens Sy volmaakte plan. Hy is die Geestelike Vader net van die wie Sy kinders is

Die Bybel is deur God geïnspireer, foutloos, volledig, voldoende, onfeilbaar en ons finale gesag. Dit is genoegsaam sodat ons in die toepassing daarvan volkome toegerus kan wees om alle lewensituasies te kan hanteer. Waarheid is absoluut, nie relatief of soos wat dit bepaal word deur die mening van n enkele persoon of die konsensus van die gemeenskap nie. Die Bybel is die standaard van waarheid.

Jesus Christus is Ewig deel van die Drie Eenheid en volledig mens tydens Sy aardse bediening, die enigste Middelaar tussen God en Mens, uit ʼn maagd gebore, het die dood oorwin en het fisies uit die dood opgestaan.

Die Heilige Gees is Ewig deel van die Drie eenheid en word onmiddellik en permanent deel van ‘n Christen op die oomblik van wedergeboorte. Hy oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid, en oordeel en lei Sy kinders in die waarheid.

Die mens is deur God na Sy beeld en sonder sonde geskep. Die sondeval het die mens volledig van God geskei en die gevolg is fisiese en geestelike dood met verdoemenis tot ‘n ewige hel.

Redding kom volledig van God af. Met geen vermoë om homself te red nie is die mens totaal afhanklik van God se genade. Geen mens kan of wil kom sonder dat God Sy lig in ons harte inskyn om ons voldoende te verlig om te reageer op Sy reddende genade nie. Die persoon wat berou het, sy sonde bely en in geloof vertrou dat Christus se dood voldoende versoening is vir sy/haar sondeskuld, word vrygespreek, met die Heilige Gees geseël, en ontvang die ewige lewe.

Die Gemeente is die liggaam van Christus en onafhanklik van eksterne outoriteit en beheer. Die doel van die gemeente is om God te verheerlik deur prediking, aanbidding, evangelisasie en onderlinge verhouding waar die een die ander bedien en as belangriker ag. Die liggaam waar elke kind van God ʼn Bybel student moet wees en in die kerk moet wees om te dien en die “mekaar opdragte” van die woord te kan uitleef . Dat elke kind van God ʼn dissipel is wat ook ander dissipels moet maak en mede verantwoordelik is vir die groei van mede dissipels. Kerklike tug, op grond van Matt. 18 is van toepassing op elkeen wat deel vorm van die gemeente.

Die gemeenskap. Die kerk is kerk binne die samelewing soos deur God beskik. Die invloed van die kerk op die gemeenskap is geleë in die evangelie wat verkondig word en individue transformeer. Hierdie transformasie sal die gemeenskap in sy wese verander. Sommige sal die evangelie verwerp en beskou as afstootlik en die kerk vervolg. Elke dissipel van Christus word ook geroep om barmhartigheid te bewys persone in nood.

Die Huwelik is heilig, bedoel tussen een man en een vrou en dat homoseksualisme sonde is. Persone wat in hierdie sonde leef kan egter gered word soos enige ander sondaar. Dat Bybelse huishoudings vanuit die huwelik die basis vir ʼn gesonde samelewing vorm.

 

Die Skepping letterlik in ses dae plaasgevind het soos in die eerste hoofstukke van Genesis aandui.